Gideon Grobler skryf vir Waterberg
- Waterbergskool vir CVO
- Sep 9, 2019
- 2 min read

Dr. Gideon Grobler,
Vlakplaas,
Vanderbijlppark.
Die Hoof;
Opvoedingsraad en vriende,
Waterberg CVO.
Liewe BCVO familielede.
In een van my liewe vrou se huisregpak aksies kom sy verlede week op dié twee keurige herinnerings af.
📷
Dit was, as ek reg onthou aan alle ouers van daardie jaar gegee. Ons het dus nie die een of ander helde daad gedoen nie, maar net gewoon ons verantwoordelikheid en voorreg as verbondsouers, wat te dankbaar was dat, deur die wonderlike beskikking van die hemelse Vader ons ‘n skool gekry het waar hierdie verantwoordelikheid gestalte kon kry.
Wat ‘n voorreg was dit nie!
Die uitdagings van daardie dae wil nie vergelyk word met dié van vandag nie. Daar is seker nog soortgelyke uitdagings, maar die worstelstryd om bane en weë oopgemaak te kry wat nie bestaan het nie, was nie maklik nie. Van elke ding wat aangepak is of wou word, moes daar nuwe strukture geskep word. Hierin was dit natuurlik die BCVO direksie en enkele administratiewe personeel wat die leeue aandeel gedoen het. Ons herinner ons die uitbundige vreugde en lekkerte vir elke funksie en byeenkoms waar ons die vrug van ons arbeid met dankbaarheid kon geniet.
Wanneer ons in die midde van stryd is, verloor ons dikwels perspektief, wil ons uit die omstandighede kom in plaas daarvan om aan te hou tot ons die nodige beheer óór ons omstandighede het. Jacobus skryf: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,” (1:2 OAV). ‘n Ander Bybel voorbeeld wat altyd vir my aangryp is die gebeurtenis in die woestyn toe die Vader die giftige slange gestuur het en baie Israelite gesterf het. Toe hulle tot God roep, het Hy hulle gehoor, maar nie die slange weggeneem nie, nee die koperslang teen die paal, was die redding, hy wat daarna kyk en glo, sal gered word (natuurlik ‘n heenwyse na Christus wat teen die paal gekruisig is). In Israel se geval het die slang steeds gebyt/gepik, God het nie die omstandighede verander of weggeneem nie, maar ‘n oplossing ten spyte van die omstandighede gegee. (Num.21:16-19) Net só roep Christus nou tot ons om te midde die omstandighede, Sy woorde in Mt.6:33 te glo!: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Hy sal die uitkoms gee, maar belangrik, Hy wil éérs sien dat ons soeke en ons dade, ons metodes, volgens Sy wil is.
Mag Waterberg CVO van krag tot krag gaan in hierdie waarheid en nóg soveel vreugde van die vrug van julle arbeid geniet!
(Dr.) Gideon Grobler, 4 September 2019
Opmerkingen