Christelike Afrikaanse onderrig bevoordeel leerlinge
- Waterbergskool vir CVO
- Nov 1, 2018
- 5 min read
Updated: Jan 8, 2020
Onderwys is in ’n krisis! Christelike onderwys is in ’n krisis! Afrikaanse onderwys is in ’n krisis! Onderwysstandaarde
is in ’n krisis! Wat doen ons hieraan? Is ons die paddatjie wat saam met die water warm word of is
ons die paddatjie wat in die room geval het en bly trap tot die botter styf genoeg is om uit te klim?
Afrikaanse skole en universiteite word al hoe minder. Elke
ouer wil die beste vir sy/haar kind hê. Christen-Afrikaanse
ouers ook! Afrikaanse ouers begin al hoe meer redeneer
dat hulle eerder hulle kinders in Engelse en sekulêre
skole moet sit sodat hulle makliker kan aanpas en beter
voorbereid kan wees vir tersiêre studie in Engels. Dit is
egter nie die beste vir ’n Christen- Afrikaanse kind nie.
Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie, maar dit
verteenwoordig ’n rykdom aan kultuurgoedere en is
’n draer van identiteit en waardes. Taal fasiliteer ons
in tellektuele en kulturele interaksies met ander mense.
Volgens Theo du Plessis, direkteur van die Eenheid vir
Taalfasilitering en -bemagtiging van die Universiteit van
die Vrystaat, het kinders hulle moedertaal nodig om
kognitiewe ontwikkeling te verseker. Hy sê dat ’n té vroeë
oorskakeling na ’n onderrigmedium wat nie die moeder
taal is nie en sonder die behoud van die moedertaal
in die onderwyssituasie, katastrofiese gevolge kan hê vir
die kognitiewe ontwikkeling van sulke kinders. Hulle kan
dan uiteindelik intellektueel en akademies gesproke nie
kers vashou by kinders wat die voorreg van langdurige
moedertaalgebaseerde onderwys geniet het nie.
As die taal wat jy tuis hoor, ooreenstem met die een
waarin jy geletterdheid ontwikkel, kan dit beslis tot beter
prestasie bydra. As die taal wat jy hoor met die klanke
wat jy op papier sien, ooreenstem, gaan jy vinniger leer.
Nasionale en internasionale navorsing het bewys dat leer
deur die moedertaal vir ten minste die eerste ses jaar van
’n kind se lewe, beslis leer bevorder. Moedertaalonderrig
is een van die redes waarom Afrikaanse skole se leerlinge
steeds volhoubaar presteer en uitstyg.
Volgens ’n studie deur dr. Viatcheslav Wlassoff , wetenskaplike
en mediese konsultant wat by verskeie instansies
wêreldwyd betrokke is, word moedertaal op ’n ander
plek in die brein aangeleer as waar ander tale aangeleer
word. Hierdie navorsing word ook deur Alison Mackey,
’n professor in Linguistiek by Georgetown en Lancaster
Universiteite, bevestig.
Die sentrum van die brein waar jou moedertaal aangeleer
word, verwerk dinge vinniger as die deel van die
brein waar ander tale verwerk word. Taalverwerwing
en die gebruik van moedertaal is iets wat onbewustelik
plaasvind. Die aanleer van ’n tweede taal is egter iets wat
bewustelik gedoen moet word. Dit is waarom ’n mens
moet dink as jy in ’n ander taal kommunikeer.
Dit is dus noodsaaklik dat ’n kind so lank as moontlik
in sy/haar moedertaal onderrig word. As hulle vroeg in
’n tweede taal moet leer, moet hulle in wese dubbeld so
hard werk, want hulle is nog besig om die tweede taal
aan te leer en moet nou ook die leerstof bemeester. Dit is
dus ’n wanopvatting dat ’n Afrikaanse kind bevoordeel
word as hy/sy van jongs af in ’n Engelse skool is. Daar
is meer navorsing wat die teendeel bewys, dus word
hulle in wese benadeel. Leerlinge wat uit Afrikaanse
skole kom, vaar baie goed op universiteit, selfs al is
alles in Engels.
Waardegedrewe onderwys is ’n noodsaaklike sleutel
tot sukses. FEDSAS het gedurende 2009 navorsing
onder sy lidskole gedoen en onder meer gevra wat beskou
kan word as die enkele grootste bedreiging vir
gehalte-onderrig. Die antwoord was nie die kurrikulum,
’n tekort aan geld of optrede van die regering nie, maar
’n gebrek aan dissipline. Onderwysers kla toenemend
oor dissipline in skole. FEDSAS het in hulle navorsing
bevestig dat die klem verkeerdelik op reëls en gefokus is
om dissipline te handhaaf. Leerlinge word die hele tyd
vertel wat hulle nie moet doen nie, in plaas van om op
die positiewe te fokus. Ons moet leerlinge doelbewus
leer wat hulle moet doen en nie aanvaar hulle weet dit
nie. ’n Waardegedrewe benadering beklemtoon wat gedoen
moet word en gee waarde aan reëls, aangesien dit
die rede verskaf waarom dinge op ’n spesifi eke manier
gedoen moet word. Waardes is dit wat optrede en ge drag
dryf en beïnvloed. Waardes beïnvloed ons verhoudings
en vorm die raamwerk vir ons lewe. Dit help om die basis
van eff ektiewe leer te vorm omdat leerlinge makliker
verantwoordelikheid ontwikkel en aanvaar. Theodore
Roosevelt het gewaarsku:
“To educate a man in mind and not in morals is
to educate a menace to society.”
In Flip Buys se woorde, moet ons leerlinge toerus vir
hulle roeping en nie net oplei vir beroepe nie, want
kwalifikasie gee werk, maar roeping gee ’n loopbaan,
dus ’n toekoms. Ons moet dus weer die roepings gedre
wen heid van ons protestantse erfenis beklemtoon.
Deur Christelike beginsels te beklemtoon, skep ons ’n
visie en hoop vir die toekoms. Hier speel onderwysers
’n sleutelrol. As die onderwyser wat elke dag voor die
kinders staan nie die regte waardes oordra nie, word
dit nie in die kind gevestig nie. Die onderwyser moet
voorleef en nie net voorpraat nie.
BCVO is ’n diensorganisasie wat in 1992 gestig is en
tans 33 CVO-skole landswyd koördineer. BCVO is gestig
deur ouers wat wou seker maak dat hulle kinders
waardegedrewe moedertaalonderrig sal ontvang. CVO skole
is by die Departement van Onderwys geregistreer
as onafhanklike skole. Dienste sluit in akademiese onder
steuning in die vorm van ’n vakadviesdiens, evalueringsdienste in die vorm van inspeksies by skole en
standaardiseringsvraestelle om standaarde te verseker
as ook die saamstel van leerplanne en handboeke. BCVO
koördineer verder provinsiale en nasionale geleenthede
vir sport en kultuur.
CVO-skole se vertrekpunt is Christelike moedertaal onderrig.
In ’n tyd wat die media en verskeie mense vra dat
geloof uit die skole gehaal moet word, bly die Bybel en
Bybelse beginsels ’n ononderhandelbare deel van CVO skole.
CVO-skole is gebou op ’n Christelik-gereformeerde
aard en karakter wat verbondsouers in hulle opvoedingstaak
ondersteun. Die skool is dus ’n verlengstuk van die
ouerhuis:
Gee jou seun ’n goeie opvoeding, en jy sal gerus
wees oor hom; hy sal jou baie vreugde verskaf
(Spr. 29:17 – 1983-vertaling).
Bybelse beginsels vorm ’n goue draad wat deur al die
vakinhoude verweef is. Bybelonderrig is ’n bevorderings
vak, m.a.w. leerlinge moet Bybelonderrig slaag om
hul graad te slaag. In Bybelonderrig word erns gemaak
met Bybelkennis asook kennis van die belydenisskrifte.
In alle vakke word van Bybelse waarhede as enigste
vertrekpunt gebruik gemaak. Christelike Onderwys is
dus nie beperk tot die lesse in Bybelonderrig of open
met Skriflesing en gebed nie.
In CVO-skole word geensins politiek of rassisme bedryf
nie, inteendeel dit is dissiplineerbaar. Leerlinge word
geleer wie hulle is en waar hulle vandaan kom, want dan
weet hulle waarheen hulle op pad is. Deur ’n trots vir die
eie te kweek en te vestig, word respek vir ander kulture
en volke ontwikkel. ’n Trots word gekweek vir Afrikaans
as moedertaal, vak- en onderrigtaal en leerlinge word
aangemoedig om goeie Afrikaans te besig. CVO-ouers
onderskryf die navorsing en bewyse waarna aan die
begin verwys is, daarom wil hulle hê dat hulle kinders
in Afrikaanse skole onderrig moet word.
CVO-skole volg ’n verrykte, kennisgedrewe kurrikulum
en strewe na uitnemende onderrig wat getuig van kwaliteit
en hoë standaarde. Kritiese en ondersoekende denke
word aangemoedig om te verseker dat ’n kind optimaal
as mens kan ontwikkel. Graad 12-leerlinge skryf aan
die einde van hulle skoolloopbaan die IEB (Independent
Examinations Board) se matriekeindeksamen in
Afrikaans. CVO-leerlinge het dus ’n wettige en erkende
matrieksertifikaat wat deur enige tersiêre instansie
erken word, dus kan leerlinge toegang kry tot verdere
opleiding nasionaal, maar ook internasionaal.
’n Bewys van hoë standaarde is die feit dat oudleerlinge
in hulle onderskeie kursusse ná skool presteer en
uit styg in die gemeenskap. Heelwat CVO-oudleerlinge
het al hul grade aan verskeie tersiêre instellings met
onderskeiding voltooi. Bitter min leerlinge wat tersiêre
studie onderneem, is onsuksesvol of laat hulle studie
onvoltooid. Ons skryf die sukses toe aan waardegedrewe
moedertaalonderrig. Verskeie oudleerlinge het nou ook
hulle kinders by CVO-skole begin inskryf wat ’n bewys
is van hulle vertroue in die stelsel. Dit is dus ’n mite om
te dink dat kinders wat aan CVO-skole gematrikuleer
het, geïsoleerd groot geword het, nie toegang tot tersiêre
instellings kry nie of sukkel om in ’n hoofsaaklik Engelse
omgewing aan te pas. CVO-leerlinge se fondamente is
stewig en goed gelê, daarom kan hulle hulself handhaaf.
’n CVO-skool strewe daarna om ’n leerling in alle
opsigte as gebalanseerde volwassene voor te berei.
Massa deelname in sport- en kultuuraktiwiteite word
aangemoedig. Daardeur kry hulle dus geleentheid om
moontlik onontdekte talente te ontwikkel.
Daar is ’n plek waar Christelike Afrikaanse kinders nog
onbeskaamd kan dink, droom en werk aan ’n hoopvolle
toekoms; waar hulle trots kan wees op wie hulle is en
waar hulle vandaan kom en hulle roeping kan uitleef.
CVO is nie net ’n naam nie, dit is ’n leefwyse! BCVO:
Ter wille van ons kinders, tot eer van God!

Gepubliseer in die Boodskapper - Amptelike blad van die Afrikaanse Protestantse Kerk No.316 November 2018
Commentaires