BELANGRIKHEID OM FIKSIE TE LEES
- Waterbergskool vir CVO
- Jan 27, 2020
- 10 min read
Updated: Apr 6, 2021
By Waterbergskool vir CVO word daar steeds gelees. Ons het 'n klein en oorvol biblioteek, en kinders maak gereeld gebruik van die leesstof daar binne.
Ons almal weet tog dat dit belangrik is dat ons kinders meer moet lees. Die
belangrikheid om literêre fiksie te lees, word egter meestal onderskat.

Lees van fiksie teenoor nie-fiksie
Almal besef die belangrikheid van lees en die waarde wat dit toevoeg, maar maak dit regtig saak wat gelees word? Ons redeneer so maklik solank daar net gelees word, kan dit enige iets wees. Dit gaan vir ons in baie gevalle dus net oor die lees.
Volgens navorsing wat deur PISA (Program for International Student Assessment) onder 15-jarige kinders in Engeland gedoen is, is bevind dat party leesstof meer voordele vir kinders inhou as ander.
Kinders is gevra hoe gereeld hulle fiksie, nie-fiksie - boeke, koerante, tydskrifte en strokiesprente lees. Die navorsing is onderneem deur John Jerrim, professor in onderwys en sosiale statistiek by die UCL Instituut van Onderwys in samewerking met Gemma Moss, professor in geletterdheid by UCL.
Die verskil in ontwikkeling en leesvaardigheid tussen kinders wat fiksie en nie-fiksie lees is bepaal. Die navorsers het bevind dat kinders wat nie-fiksie gereeld lees, m.a.w. koerante, tydskrifte, strokiesprente en nie-fiksie boeke bepaalde leesvaardighede het, maar dat kinders wat gereeld fiksie lees se leesvaardigheid baie hoër is as hulle eweknieë wat nie-fiksie lees. Leestoetsresultate dui daarop dat kinders wat gereeld fiksie lees nie-fiksie lesers ver voor is. Dit is gelykstaande aan 10 maande se ekstra skooltyd. Navorsers is van mening dat dit is omdat ʼn kind wat fiksie lees vir langer tye aanmekaar lees omdat hulle geboei word deur die verhaal, die storielyn. Hulle moet die draad van die storie behou asook die intrige. Die letterkundige waarde is ook hoër. Navorsing het verder bewys dat dit ook algemeen is dat ʼn kind wat fiksie lees, meer boeke in ʼn reeks of van ʼn spesifieke skrywer lees. In teenstelling met kinders wat nie-fiksie lees. Hierdie kinders lees korter artikels en vorm nie die groter geheel nie. Die artikels hou nie met mekaar verband nie, dus hoef hulle nie regtig enige iets van die artikel te onthou nie.
Die navorsers het geslag, sosio-ekonomiese status en soort skool in ag geneem met die ontleding van die data om seker te maak dat daar nie ander redes is wat die resultate beïnvloed nie.
Professor Jerrim sê dat hierdie bevinding belangrike gevolge het, naamlik dat ouers en onderwysers nie kinders net moet aanmoedig om “enige” iets te lees nie. Hulle moet liewer moeite doen om kinders aan te moedig om novelle en ander fiksie wat dieper lees vir langer periodes vereis, te lees.
Dit is veral belangrik om seuns, in besonder seuns van laer sosio-ekonomiese omgewings, aan te moedig om fiksie te lees. Hulle lees die minste en het ook swakker leesvaardighede.
Albert Camus sê: "Fiction is the lie through which we tell the truth." Dit bevorder empatie en begrip. Dit maak ons mens en help ons om mense te verstaan – mense se behoeftes, begeertes en motiewe. Fiksie help ons om ons eie gevoelens te verstaan. Dit stel ons bloot aan mense en plekke wat ons nie anders van sou weet nie. Dit gee jou dus beter perspektief.
Fiksie is die vorm van ʼn storie wat gedeeltelik of heeltemal handel oor inligting of gebeure wat nie werklik is nie, maar denkbeeldig en teoreties is en deur die skrywer versin is teenoor nie-fiksie wat te doen het met eksklusiewe feitlike gebeure, beskrywings en waarnemings.
Fiksie is ʼn belangrike deel van die letterkunde en bevat kennis en inligting. Om fiksie te lees is dus baie belangrik.
Jou brein en fiksie
Neurowetenskaplikes het tydens breinskanderings bewus geraak dat fiksie die brein stimuleer en selfs gedragsveranderinge tot gevolg het.
Dr. Keith Oatley, emeritus professor in kognitiewe psigologie aan die Universiteit van Toronto het bevind dat die brein nie ʼn onderskeid maak tussen die lees van ervarings en die werklike gebeure nie. Met ander woorde dat die lees van fiksie vir die brein is soos simulasies op ʼn rekenaar. Daar is nie ʼn onderskeid in die brein tussen die lees van gebeure in fiksie en die werklike gebeure nie. Dit is asof dit met die persoon gebeur. Die persoon ervaar dus beskrywings en vertellings eerstehands.
Dr. Oatley en dr. Mar in samewerking met verskeie ander navorsers het in twee navorsingstukke bewys dat individue wat gereeld fiksie lees ʼn beter vermoë het om mense te verstaan en met hulle empatie te hê. Hulle het ook persone wat bekend is dat hulle goeie menseverhoudinge het, mense verstaan en empatie met mense het, ondervra. Deurgaans het mense aangedui dat hulle baie daarvan hou om fiksie te lees en dit gereeld lees.
Dr. Mar het in 2010 soortgelyke resultate gekry na daar vir ʼn geruime tyd fiksie aan kleuters voorgelees is. Hulle onderlinge verhoudinge het merkbaar verbeter.
Prof. Gregory Berns, neuro-wetenskaplike, het ʼn studie onderneem waar breinskanderings op 21 voorgraadse studente gedoen is, terwyl hulle gerus het. Daarna is ʼn literêre fiksieboek vir hulle gegee om te lees. Hulle moes vir nege nagte elke nag ʼn aantal ure lees. Elke oggend vroeg is ʼn breinskandering gedoen asook vir vyf dae elke oggend nadat hulle die boek klaar gelees het.
Die skanderings in die oggend na die nag se lees het verhoogde aktiwiteit in die linkerbrein, waar taal hoofsaaklik plaasvind, asook in die sentrale gedeelte van die brein waar die sensoriese en beweging gesetel is, gevind. Daar is verrassend ook verhoogde aktiwiteit in die voorste gedeelte waar beweging van ledemate asook in die agterste gedeelte waar sensoriese stimulasie aan gedeeltes van die liggaam plaasvind, gevind.
Hierdie verhoogde breinaktiwiteit is na die lees van die boek steeds waargeneem.
Die afleiding kan dus gemaak word dat die lees van fiksie die leser in die skoene van die karakter plaas. Die leser leef deur die karakter en ervaar alles wat die karakter ervaar en beleef dit asof hy dit self beleef en ervaar het.
Volgens navorsing gepubliseer in 2001 in The Journal Proceedings of the National Academy of Sciences, is bevind dat lesers van literêre fiksie ʼn kleiner kans het om Alzheimer te kry. Lesers se geheue het 32 % minder verlies gehad as hulle vergelykbare ouderdomsgenote wat nie-fiksie lees. Dit is bekend dat as mens ʼn storie hoor, onthou jy dit langer, maar as jy fiksie lees, is dit nog langer in die langtermyngeheue.
Fiksie ontwikkel empatie
Fiksie bevorder empatie en die verstaan van mense se motiewe en perspektiewe. Fiksie kan jou volledig in iemand anders se gedagte en skoene plaas wat geen ander vorm van kommunikasie kan doen nie. ʼn Noue verbintenis, koppeling ontstaan tussen die gedagtes van die leser en die skrywer asook tussen die leser en die karakters. As jy fiksie lees, sien jy as’t ware die wêreld deur die oë van die karakter. Jy raak dus deel van die interaksie tussen die karakter en sy wêreld.
Wanneer jy geskiedenis bestudeer, bestudeer jy droë feite, maar historiese fiksie plaas jou in die middel van die gebeure van ʼn spesifieke tyd. Dit betrek jou by gebeure en jy ervaar alles saam met die karakter.
Goeie fiksie betrek die psigologie en filosofie. Dit help jou om perspektiewe, beide psigologies en fisies te verstaan. As jy die boek klaar gelees het, verstaan jy dinge wat jy nie voorheen verstaan het nie en is jy verryk. Aangesien jy dit ervaar het, onthou jy dit ook langer. Die tipe boeke wat jy lees, kan dus ons verhoudinge beïnvloed.
Emanuele Castano, sielkundige en David Kidd, PhD-student het vyf studies onderneem met tussen 85 en 356 kandidate. Die kandidate het opdrag gekry om fiksie (goeie literêre fiksie of populêre fiksie) of nie-fiksie of niks te lees. Daarna is die kandidate gevra om ʼn toets af te lê wat hulle vermoë om mense se gedagtes en emosies te verstaan, evalueer. Nodeloos om te sê dat die groep wat niks gelees het nie die swakste gevaar het, daarna die groep wat nie-fiksie gelees het, gevolg deur die groep wat populêre fiksie gelees het. Die groep wat literêre fiksie gelees het, het in alle opsigte uitgestaan.
Uit die navorsing blyk dit dat populêre fiksie die leser op ʼn mallemeule van emosies neem met interessante ervarings. Die gebeure en optrede van karakters kan egter voorspel word. Dit word as rede aangevoer dat dit nie bydrae tot die ontwikkeling of uitbreiding van die leser se begrip en empatie nie.
Die leser is vry van enige groepsdruk of –invloed en kan gevolglik eie afleidings en gevolgtrekkings maak sonder om veroordeel te word. So word die leser onbewustelik toegerus om situasies in die werklike lewe en eie lewe te hanteer.
Literêre fiksie daarenteen fokus op die psigologie van die karakter en verhoudings. Dit word vaer aan die leser oorgedra wat tot gevolg het dat die leser moet antisipeer wat moontlik kan gebeur. Daar is gapings en die leser moet self probeer verstaan wat die intensie en motief van karakters is. Volgens Kidd word die leser gelei en moet die leser die innerlike dialoog van karakters self skep en invul. Hierdie psigologiese bewustheid word deel van die leser en word dus vorentoe in die werklike lewe benut en toegepas.
Literêre fiksie is normaalweg ook meer realisties as populêre fiksie. Daar is minder stereotipes en verras die leser deur nie aan verwagtinge te voldoen nie of teen die verwagte in op te tree. Karakters leer dus die leser subtiel dat mense verskil en dat dit belangrik is om ruimte te skep daarvoor en mense met verskille te aanvaar. Deur fiksie te lees word dus kosbare sosialiseringswaardes geleer. Castano het die hoop uitgespreek dat die navorsing sal bydra tot die bewusmaking van die belangrikheid van die lees van literêre fiksie om tot die ontwikkeling van kinders op die spektrum van outisme asook rehabilitasie van gevangenis by te dra.
Die brein ontwikkel die vermoë om netwerke te ontwikkel en te verbind wat die leser in staat stel om gebeure in verband te bring, te antisipeer en te verstaan. Die brein se vermoë om reuke, geure, beweging, klanke en beelde waar te neem, verskerp wat tot gevolg het dat die leser dit ervaar asof hy dit self doen, ruik of voel.
Fiksie maak ons lewe ryker
Fiksie hanteer dinge wat ons mens maak, naamlik konflik, passie, liefde, vrees, haat, jaloesie, ens. Dinge waarvan ons hou, dinge wat ons ontstel. As ons hierdie emosies in fiksie lees, laat dit ons voel, ervaar. Ons ervaar die emosies saam met die karakter. Dit help ons om emosies in ons eie lewe beter te hanteer en te verwerk. Dit maak ons ryker en beter mense.
Fiksie help ons verder om uitdagings die hoof te bied. Karakters kom voor uitdagings en probleme te staan wat in die werklike lewe ook bestaan. Dit laat ons dink hoe ons dit sou hanteer. Aangesien dit vassteek in die brein, help dit ons as ons voor soortelyke probleme te staan kom.
Deurdat ons gefokus lees om die storielyn te behou, kan dit bydrae tot verhoogde produktiwiteit aangesien jy gewoond raak om vir langer tye te konsentreer.
Fiksie help ons om te verstaan
Fiksie is volgens die definisie, iets wat opgemaak is, dus nie noodwendig die waarheid nie, alhoewel fiksie die waarheid hanteer. Ernest Hemingway sê: “All books have one thing in common – they are truer than if they had really happened, and after you’ve read one of them you will feel that all that happened, happened to you and then it belongs to you forever: the happiness and unhappiness, good and evil, ecstasy and sorrow, the food, wine, beds, people and the weather.”
Mens moet egter erken dat alle fiksie nie goeie fiksie is wat waarde toevoeg nie. Net so is alle nie-fiksie boeke ook nie waardevol nie.
Fiksie help ons om die groter prentjie te sien
Om van punt A na B te beweeg, is nie net ʼn liniêre proses nie, maar is deel van ons dag-tot-dag lewe en bestaan. Alles wat met ons gebeur, vorm ons en het ʼn invloed op ons. Dit het ʼn invloed op hoe ons optree. Fiksie help ons om dit te besef en raak te sien. Fiksie help ons om afstand te kry, aangesien dit in wese ʼn storie is, terwyl ons dit tog op ons eie lewe kan toepas. Dit is amper of mens oor alles vlieg en die groter prentjie kan raaksien, terwyl mens normaalweg op aarde in bosse en geboue vaskyk.
As jy fiksie lees, sien jy die wêreld deur iemand anders se oë. Dit kan van ander vorms van kommunikasie ook waar wees, maar fiksie neem jou na binne. Jy kry geleentheid om die karakter se gedagtes te lees en sy perspektiewe te ervaar. Ons perspektiewe is beperk, maar as ons iemand anders se perspektiewe ervaar, kry ons die kans om te sien of dit werk, sonder dat dit ons negatief beïnvloed of dat ons deur ʼn groep veroordeel kan word. Dit word deel van ons, gevolglik verander of brei dit ons perspektiewe uit. Dit dra dus by tot groei in ons menswees.
Kreatiwiteit
Fiksie stimuleer ons verbeelding. Dit is immers in ons verbeelding dat ons die hele wêreld se probleme oplos. Daar is nie altyd ʼn gelukkige voorspelbare einde nie, dus word die leser se kreatiwiteit gestimuleer om ʼn einde te antisipeer.
Deur fiksie te lees, kan ons iemand of iets word wat ons nie andersins sou kon nie. Ons kan iets ervaar, wat ons dalk nooit die voorreg sou gehad het in die werklike lewe nie.
Fiksie is goed vir ons
Navorsing in 2009 deur die Universiteit van Sussex het bevind dat die lees van fiksie spanning en stres met tot 68 % kan verminder. Om fiksie te lees is dus meer effektief om spanning te verlig as om na musiek te luister of te gaan stap. Navorsers wat kandidate gemonitor het, het bevind dat nadat kandidate 6 minute lank stil fiksie gelees het, het hulle hartklop drasties afgeneem en spanning in hulle spiere met 68 % verminder het. Sielkundiges skryf die waarneming daaraan toe dat lesers konsentreer op die leesaksie en dit lei hulle aandag af van hulle eie probleme en spanning. Dit bring dus innerlike vrede en help die brein om af te skakel.
Verder brei dit woordeskat uit aangesien ʼn weier woordeskat gebruik word om ʼn storie te vertel. Fiksie verbeter geheue, probleemoplossing en verskeie ander kognitiewe vermoëns. Lees van fiksie kan selfs bydrae tot die verhoging van intellek aangesien kennis en ervaring uitgebrei word. Gereelde lesers van fiksie slaap beter, want hulle stresvlakke is laer, het beter selfbeeld en is minder geneig om aan depressie te ly as nie-fiksie lesers. ʼn Opname wat onder 1500 lesers gedoen is, het bevind dat 76 % van die lesers aangedui het dat hulle lewe verbeter het en hulle beter oor hulleself voel nadat hulle fiksie gelees het.
Dit is dus noodsaaklik dat ons kinders aanmoedig om literêre fiksie te lees, maar self die voorbeeld stel en die voordele ervaar.
Bronne:
Frankman, Hannah The Importance of Reading Fiction
Chaiet, Julianne Novel Finding: Reading Literacy Fiction Improves Empathy
Paul, Annie Murphy Your Brain on Fiction
Tahmaseb-McConatha, Jasmin Travelling Companions: The Healing Power of Books
Fechter, Joshua 7 Benefits of Reading Literacy Fiction you may not know
Seiter, Courtney The Surprising Power of Reading Fiction
Bergland, Christopher Reading Fiction Improves Brain Connectivity and Function
Haden, Jeff 9 Ways Reading Fiction Will Make You Happier and More Successful
Kommentare